Hoe lyk ‘n gesonde leefstyl?

‘n Gesonde leefstyl is een van die belangrikste pilare van ‘n gebalanseerde lewe. Wanneer mens gesond leef kan jy baie beter funksioneer op alle terreine! Om te konsentreer en te studeer sal ook baie makliker wees wanneer jou liggaam met die regte aktiwiteite en voedsel gevoed word. Om gesond te leef is ook een van die Here se opdragte aan ons. Met ons liggame as tempel van die Heilige Gees is dit ons opdrag om gesond te leef, sodat ons ‘n gesonde liggaam kan huisves.

Hoe lyk ‘n gesonde leefstyl? Dit bestaan hoofsaaklik uit drie dele: Oefening, dieet, en goeie hantering van stres.

Oefening

Die belangrikste deel van oefening is sy maat wat daarby saam hoort: gereeld.
Ja, ons almal moet gereeld oefen sodat ons liggame lekker fiks kan word.

Buiten fiksheid, bied oefening ook baie gesondheidsvoordele. Gereelde oefening sorg vir:

  • Verbeterde breinfunksies en geheue
  • Sterk immuniteit
  • Gewigsverlies
  • Sterker spiere en bene
  • Verhoogde energievlakke
  • Gesonde vel
  • Beter slaapkwaliteit

As jy net elke nou en dan oefen, sal jy nie van al hierdie wonderlike voordele van ‘n gesonde liggaam kan geniet nie!

Gesonde eetgewoontes

Buiten vir gereelde oefening, is gesonde eetgewoontes net so belangrik. Wanneer mens hieraan dink, bly die goue reël: Matigheid voor oë.

Om matigheid voor oë met eetgewoontes te hou, is om gebalanseerd en gesond te eet, maar ook jouself toe te laat om elke nou en dan iets lekkers te geniet. Hoe lyk ‘n gebalanseerde ete?

Meeste kinders en tieners het ‘n baie besige leefstyl wat tussen skool, huiswerk, studeerwerk, buitemuurs en klomp ander aktiwiteite wissel. Dit is belangrik om so ‘n besige leefstyl met die regte brandstof (voedsel) te voorsien.

Hoe lyk gesonde eetgewoontes?

Eet drie gebalanseerde hoofmaaltye per dag.

Hierdie maaltye bestaan uit ‘n gesonde balans tussen groente en vrugte, vleis, melk en stysel. Daar is baie verskillende voedselpiramides wat porsiegroottes van verskillende voedselsoorte voorstel. Sonder om in te veel detail in te gaan, is dit belangrik om hierdie 5 voedsel groepe mooi in jou eetgewoontes te balanseer. Net soos wat ‘n maaltyd net uit brood baie ongesond sal wees, so ook een wat net uit vleis bestaan (jammer manne!).

Peusel tussen maaltye.

Tussendeur maaltye mag jy dalk honger begin voel, veral wanneer jy groei! Daarom is dit baie belangrik om gesonde peuselhappies byderhand te hê. Hierdie happie sal die ergste hongerpyne stil, ‘n energie-hupstoot gee en jou tot die volgende hoofmaaltyd deurdra. Peuselhappies kan baie lekker, maar ook ‘n versoeking wees! Moenie eet of peusel net omdat jy verveeld is nie. Onthou, happies is nie lekkergoed om net sommerso te eet nie.

Vermy suikerige eet- en drinkgoed.

Buiten gesond en gebalanseerd eet, is dit ook belangrik om ongesonde kosse uit te sny. Dit is happies of lekkergoed wat baie suiker, kleurstowwe en geurstowwe bevat. Hier is ‘n paar voorbeelde van minder gesonde lekkergoed:

  • Sjokolade
  • Suigstokkies
  • Lekkergoedpakkies (suurwurms, jelly babies, jelly tots ens.)
  • Roomys

‘n Ander baie ongesonde lekkerny waarvoor almal lief is, is gaskoeldrank. Wel, is jy lief daarvoor om 8 teelepels suiker op een slag te eet? Dit is immers hoeveel suiker in een blikkie gaskoeldrank is! Hou daardie vinnige feit in gedagte die volgende keer wat jy gaskoeldrank in jou keel afgooi.

Goeie breinkosse:

In plaas daarvan om suikerige lekkernye te eet, geniet eerder ‘n paar slim breinkosse. So word jou honger effens gestil, en kan jou brein die regte brandstof gebruik om ten volle te kan funksioneer.

  • Neute
  • Bloubessies
  • Vis
  • Brokkoli
  • Donker sjokolade

Drink genoeg water

Laastens is dit baie belangrik om genoeg water aan jou liggaam te verskaf. Neurone in jou brein en rugmurg maak veral gebruik van water om boodskappe aan mekaar te stuur (leer nuwe inligting, oplos van probleme, verbeterde konsentrasie ens.). Boodskappe sal nie gestuur kan word as daar nie genoeg water beskikbaar is nie. Daarom sal ‘n gedehidreerde liggaam nie ordentlik kan konsentreer nie.

So, om dehidrasie te voorkom, drink 6-8 glase water per dag. Jy sal meer energie hê, en vir seker baie beter kan konsentreer!

Goeie streshantering

Ons almal leef in ‘n baie besige samelewing. Selfs op skool spoel die gejaagdheid van die lewe oor in eindelose buitemuurse aktiwiteite, ekstra klasse, huiswerk en sport. Ek is seker jy kan nog tien goed by daardie lys voeg.

Dit is natuurlik dat so ‘n besige lewe stres veroorsaak, maar die kruks van die saak lê in die hantering daarvan. Jy kan so gereeld oefen en gesond eet soos wat jy wil, as jy nie goeie streshantering toepas nie, is alles verniet.

Oorsake van onvoldoende streshantering

Onvoldoende streshantering kan lei tot emosionele uitputting en op die ou end, uitbranding. Uitbranding, of ‘n Burnout, is as jy weens te veel stres ineenstort. ‘n Uitgebrande persoon is permanent moeg, dikwels siek, kry baie hoofpyne, het min motivering en voel dikwels terneergedruk. Hierdie is slegs ‘n paar simptome van die ernstige toestand en kan nie hieraan beperk word nie. Uitbranding veroorsaak op die ou end dat mense nie hulle daaglikse werk kan doen nie.

Wenke vir goeie streshantering

Die Here gee aan ons die opdrag om ons daaglikse werk te doen, daarom is dit ook jou opdrag om stres so te hanteer om uitbranding te voorkom.
Probeer hierdie volgende paar wenke:

  • Leer hoe om nee te sê. Moenie te veel hooi op jou vurk laai deur jou hulp vir almal aan te bied nie.
  • Vermy stresfaktore. As ‘n sekere persoon jou opwerk, probeer om hulle, so ver moontlik, te vermy. Daar is egter gevalle waar dit nie moontlik is nie; dit sal nogal moeilik wees om jou onderwyser te vermy, veral as sy elke dag vir jou klas gee! In daardie geval, probeer om die stressituasie te ontlont, sodat jy meer gerus deur die dag kan gaan.
  • Oefening is nie net vir jou lyf nie. Nee, oefening is ook goed vir jou brein. Gereelde oefening stel ‘n anti-stres hormoon, serotonien, vry. Hierdie hormoon is een van die goedvoelhormone wat jou meer ontspanne laat voel.
  • Deel met ander. Praat met iemand in jou lewe oor die dinge waaroor jy stres. Jy kan hierdie gesprek met jou ouer, onderwyser of vriend/in voer. Hierdeur kan jy klankbord, ‘n ander perspektief kry en saam aan oplossings vir ‘n probleem dink!
  • Slaap genoeg. Navorsing het gewys dat tieners die minste (7ure) van alle ouderdomsgroepe slaap. En dít terwyl hulle die meeste slaap nodig het! Om stres goed te kan hanteer het jou liggaam genoeg rus nodig. Daarom is dit belangrik om tussen 9-10 ure se slaap in te kry.

‘n Gesonde leefstyl bestaan dus uit drie hoofpilare: Gereelde oefening, gesonde eetgewoontes en goeie streshantering. Skeep jy een van hierdie drie pilare af? Begin sommer vandag om jou leefstyl tot ‘n gesonde een om te keer!

Hoe bly ek gemotiveerd? 3 Wenke vir leerlinge.

Met die nuwe kwartaal wat aangebreek het, lê daar baie nuwe uitdagings en geleenthede voor. Sommige van ons het baie goeie uitslae aan die einde van die vorige kwartaal gekry en sien uit om weer dieselfde prestasie te behaal. Ander het weer minder goeie punte in die sak huis toe gebring. Hoe jou situasie ook al lyk, bly dit die belangrikste om met volle motivering die nuwe kwartaal aan te durf.

Hoe bly, of word ek, gemotiveerd?

Daar is verskillende maniere om motivering te vind en te behou. Volg ons paar wenke in die nuwe kwartaal, en jy sal gou die vrugte daarvan pluk!

1. Stel ‘n doelwit.

Goeie motivering spruit uit ’n duidelike doelwit. ’n Doelwit is ’n duidelike, spesifieke, tydgebonde mikpunt wat jy aan jouself stel. Verder is dit ook belangrik om ’n doelwit haalbaar en realisties te hou. Wanneer jy te hoë eise aan jouself stel, sal dit jou juis demotiveer.

Die belangrikste wanneer jy jou doelwit opstel, is om die volgende te onthou (SMART):

  1. Spesifiek
  2. Meetbaar
  3. Haalbaar (Achievable)
  4. Realities
  5. Tydsgebonde

Op skool stel mens gewoonlik korttermyn doelwitte. Hierdie doelwitte kan binne ’n paar maande tot ‘n jaar behaal word.

’n Paar voorbeelde van goeie korttermyn doelwitte:

  • Aan die einde van die kwartaal wil ek my gemiddeld met 5% verbeter.
  • Aan die einde van die jaar wil ek graag ’n onderskeiding vir Wiskunde behaal.
  • Voor die einde van die sagtebal seisoen wil ek tien home runs slaan.
  • Ek wil oor ’n maand ’n 5km padwedloop voltooi.

2. Beplan vooruit

Noudat jy jou doelwit gestel het, is dit belangrik om die pad daarheen te bou! Jou motivering sal vinnig verdwyn as jy nie ’n game plan het nie.

Hou altyd jou doel voor oë wanneer jy beplanning doen. Verdeel die doel in kleiner take op. My ma het altyd vir my gesê: “Hoe eet ons ’n olifant? Happie vir happie.”

Beplanning volgens die doelwit:

’n Maklike manier om hierdie taak te benader is om die doel in kleiner tydsgrepe van dae, weke en uiteindelik maande, op te deel.

Byvoorbeeld:
Doelwit: Ek wil my gemiddeld met 5% verbeter.

Ek moet my huiswerk elke dag doen.
Som nuut-behandelde werk dadelik op. Dan hoef ek nie ’n paar dae voor die tyd te cram nie.

Ek moet elke week vir die klastoetse leer.
Hersien die deurlopende opsommings maandeliks om so betyds voor te berei vir die kwartaaltoets of eksamen.

Goeie tydsbestuur.

Verder is dit ook belangrik om goeie tydsbestuur toe te pas, anders sal jy baie sukkel om jou doelwit binne die tydperk te behaal (onthou Tydsgebonde van SMART).

Vermy tydrowers so ver as moontlik. Hier is ’n paar voorbeelde van tydrowers:

  • Sosiale media (Facebook, Instagram WhatsApp).
  • Video’s (YouTube, Netflix, Showmax).
  • Algemene Internetgebruik (Google search alles).
  • Ruim kamer op vir geen rede.
  • Kuier saam met vriende voor jou werk klaar is.

Die lys kan ongelooflik lank word. ’n Tydrower is bloot iets wat jou tyd in beslag neem sodat jy nie aandag aan jou doelwitte kan skenk nie.

Hier is ‘n uitdaging: Laai vir die volgende 4 weke YouTube, Facebook en Instagram van jou selfoon af. Kyk ’n bietjie hoeveel tyd jy dán sal hê!

Verder is dit ook belangrik om take nie uit te stel nie. Pak jou werk dadelik of so gou as moontlik aan. Werk eers, daarna kan jy speel.

3. Verfris jou omgewing.

Hoe lyk jou studieplek tuis na die vakansie? Sommige leerders se plekke is maar lekker deurmekaar, veral na so ’n lang vakansie. Om gemotiveerd te bly, moet jy jou brein ge-orden hou. ’n Skoon omgewing huisves ’n helder, vars brein wat ordelik kan dink.

Die mens is geskape volgens ’n sekere orde, deur ’n God van orde. Daarom moet ons omgewing en lewe ook ordelik wees! Ons kan nie helder in ’n deurmekaar omgewing dink nie, want ons is nie so gemaak nie! Ruim sommer vanmiddag nog jou studieplek/kamer op om ’n helder en vars denkende brein te kweek.

So, waarvoor wag jy? Wees die kwartaal gemotiveerd om jou doelwitte te bereik! Begin deur ’n doelwit te stel, streef daarna deur ordentlike beplanning en orden jou lewe deur jou omgewing te verfris. Baie sterkte vir die nuwe kwartaal wat voorlê. Ek wens julle alles van die beste toe. Woeker met jou talente, sodat jy al jou gawes ten volle kan benut – dit is wat die Here van jou vra. Lekker leer!